listen to Radioteater

Radioteater
Radioteater

Radioteater

Drama

Teater van die verbeelding. Die dramas word in twee seisone uitgesaai: April tot Junie en Oktober tot Desember.

LIESBET deur Leon van Nierop

Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is. Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is, en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar. Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit. Leon van Nierop het die regie behartig.

59:21

DIE POTPLANT deur Karli Heine

‘n Klompie verwaarloosde plante in ’n kantoor is ongelukkig met hulle omstandighede. Hulle besef hulle kom al hoe nader daaraan om te vrek, en probeer onmiddellik planne beraam om te oorleef. Met ’n paar verwikkelinge en struikelblokke, soos Ontvangs se haarsproei, wonder hulle oor ’n paar goed: Wie is nou eintlik die vyand - Vismot, die grommige-gogga wat aan alles knaag, óf die ledematiges wat in die kantoor werk en klaarblyklik nie na hulle omsien nie. En die belangrikste - Is die gras werklik groener aan die ander kant? Die spelers is Joanie Combrink, Karli Heine, Lochner de Kock, Marion Holm en Esther von Waltsleben. Musiek deur Grethe van der Merwe. Frieda van den Heever is die regisseur.

38:26

AMADEUS deur sir Peter Shaffer (Vertaal en verwerk deur Nerina Ferreira)

Antonio Salieri is die afgetrede hofkomponis van die keiser Josef II, maar nou sit hy in sy blyplek in Wene en besluit om iets te bely... Hy vertel van sy eerste ontmoeting met 'n ander komponis, Wolfgang Amadeus Mozart. Mozart was 'n wonderkind en van jongs in aanvraag regoor Europa. Salierie, daarenteen, was 'n bra gemiddelde komponis en die tweestryd tussen hom en Mozart is iets wat nou nog by hom spook. Net voor sy finale belydenis speel die werklikheid hier reg voor hom af... André Rossouw vertolk Salieri, en die gevierde verhoogregisseur, Marthinus Basson, Mozart. Ander spelers is Shirley Ellis, Dawid Minnaar, Herman Pretorius, Paul Malherbe, Pieter Cilliers, Dawie Ackerman, Johan Rademan, Jan Lombard en Pieter Bredenkamp. Margot Luyt het die regie behartig.

01:29:33

FRANK & GLADYS deur Tom Stoppard (vertaal deur Roy Niemann)

Frank skakel die telefoondiens wat die korrekte tyd aandui, maar herken dadelik die vrouestem aan die ander kant van die lyn. Dis sy oorlede vrou, Gladys! Hy besluit om die gebou wat hierdie diens lewer, binne te vaar, en te eis dat die owerhede sy vrou vrylaat. Die spelers is Lourens Cillié, Leona Rich, Dawie Ackerman, Trudie du Plessis, Louw Verwey, Kitty Albertyn, Amanda Muller, Paul Malherbe, Limpie Basson, Christine Liebenberg, Johan Rademan en Roy Niemann. Margot Luyt het die regie behartig.

29:57

EEN, TWEE, DRIE, BLOK MYSELF deur Karen Wessels

Wanneer ’n aantreklike vreemdeling, Walter, opdaag en haar wêreld stadig begin ontwrig, word dit duidelik dat alles nie pluis is nie. Soos Monika se werklikheid begin verbrokkel, word die jy meegesleur in ’n spanningsvolle onthulling van verborge geheime, skuldgevoel, en ’n verlede wat weier om begrawe te bly. Die drama word gedra deur intense dialoog, atmosferiese klankontwerp en musiek wat as emosionele leitmotief dien. Die rolverdeling sluit sterk karakteruitbeeldings in deur Amanda Strydom, Pierre Breytenbach, Natasja Jacobs, Pietie Beyers, Zane Meas en Jakkie Groenewald. Elke karakter is ’n draer van hulle eie pyn, geheime en morele grys areas. Dis ’n rou en eerlike drama wat vrae stel oor identiteit, herinneringe en of ’n mens werklik van jouself kan wegkruip. Karen Wessels het die regie behartig.

56:57

HARTSAKE deur Joe Kleinhans

In die wêreld van sepies en skyn, is daar soms net een storie wat te na aan die hart lê. Wanneer ’n akteur, wat ’n dokter in ’n sepie speel, in die hospitaal beland, vervaag die grense tussen fiksie en werklikheid. HARTSAKE is ’n moderne tragedie wat diep delf in die psige van liefde, verlies en die stille brutaliteit van alledaagse verhoudings. Met Robbie Wessels, Renske Jacobs, Kaz McFadden, Imarie Oberholzer, Antowan Nothling en Elzabé Zietsman. Luan Jacobs is die regisseur.

58:06

SLANG IN DIE GRAS deur Chris Madjiet

Slang en sy groepie helpers tel kosbaarhede by die asgate op om te verkoop. Hulle stel veral belang in koper en aluminium. Hulle was almal in die tronk, en lede van die tronkbendes. Die hiërargie op die asgate is duidelik: Slang sê… en die res moet luister. En daar is min genade vir dislojaliteit. Die spelers is Chris Madjiedt, Charlton George, Marlo Minnaar, Rayston Stoffels en André Samuels.

01:07:54

GROETE VAN TANT MARTJIE deur Paula Hartzenberg

Martjie en Bruwer Groenewald (Rika Sennett en Anton Dekker) het nie 'n maklike lewe agter die rug nie. Daar is 'n leemte in Martjie se bestaan, wat sy hoop om uiteindelik te kan vul. Sy weet egter dit sal nie maklik wees nie. Haar man doen alles in sy vermoë om die hartseer wat sy nog altyd in haar ronddra, uiteindelik te verlig. Dit sluit in om Thomas Smit (Sean Brebnor) om te haal om haar op hulle plaas te besoek - oënskynlik om geldelike hulp by haar te kry. Thomas het 'n bevoorregte lewe gely. Hy is geheg aan sy ma (Bertha le Roux-Wahl), maar sekere feite wat ná sy pa se dood aan die lig kom, verwar hom. Ná sy besoek aan Martjie kry hy uiteindelik antwoorde. Ander spelers is Louise Eksteen as Kadija, 'n eertydse verpleegster wat Martjie jare gelede bygestaan het, en nuweling Mada Oosthuizen as Lianie Landman, die jong vrou wat deels verantwoordelik is vir Thomas se geldelike probleme. Die drama is in Johannesburg opgevoer deur Mari Snyman.

56:35

‘N ONVERWAGSE KRISMISBOKS deur Christo Davids

Margie, ’n toegewyde verpleegster by Tygerberg Hospital, werk lang en uitputtende skofte om haar twee kinders, Zelda en Zak, te onderhou nadat haar man, Henry, haar jare tevore verlaat het. Zelda raak swanger ná ’n verhouding met George, ’n getroude man, wat druk op haar plaas. Zak word gearresteer vir die aanranding van ’n vrou aan wie hy dwelms verkoop het. In ’n ironiese wending word Henry, Zak se afwesige pa, sy prokureur wat intussen deur sy tweede huwelik is, en nou alleen is. Hierdie omstandighede dwing die gesin om weer bymekaar te kom oor Kersfees, waar ou wonde, skuld en moontlike versoening na vore kom. Die spelers is Ivan Abrahams, Theresa Cloete, Dean Balie, Kim Cloete, Hein Poole, Sue Pyler-Slabbert, Johan Stassen en Deirdre Wolhuter. Margot Luyt het die regie behartig. Die drama is in 2013 die eerste keer uitgesaai as deel van RSG se eerste kunstefees.

42:21

BLOED VAN MY deur JJ Roberts

Meyer is Simeon se ouer broer. 18 Maande tevore is hulle ouers in ’n motorongeluk dood, en Meyer moes sy studies staak en as Simeon se voog optree terwyl hy sy laaste twee jaar op skool voltooi. Simeon worstel met ’n skuldgevoel omdat hy ná ’n partytjie gearresteer is en sy ouers hom by die polisiestasie moes gaan haal, maar onderweg daarheen het hulle verongeluk. Dit lei tot allerlei probleme tussen die twee broers, totdat hulle openlik oor hulle ouers se dood praat en hulle verhouding herstel word. Die spelers is Casper Lourens, Wiandré du Plessis, Claudia Jones, Rico Immelman en Blyde Schoeman. Eddie de Jager is die regisseur. JJ Roberts het die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) gewen in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

45:47

KALAHARI STERRE deur Adam Willemse

Drie vriende en hulle jong bestuurder vertrek op ‘n reis na die dorpie Askam. Dit blyk nie net ‘n gewone reis te wees nie, maar ook ‘n ontdekkingsreis, ‘n reis na self, na identiteit en aanvaarding. Boeta, Benji, Lulu en Paul bied ʼn vertoning aan, wat dit waag om die ander sy van menswees uit te beeld vir ʼn konserwatiewe landelike gehoor. Ten spyte van veral Boeta en Paul se kommer, is die vertoning ʼn reuse sukses, en is daar ook sprake van vergifnis en herstel van ʼn onseker verhouding tussen Boeta en sy weerbarstige pa, Ruben. Die spelers is Dean Balie, André Samuels, Wessel Pretorius, Eben Genis, Susanne Beyers en Royston Stoffels. Joanie Combrink het die regie behartig. Die drama is as die algehele wenner aangewys in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

58:24

SUIKERBEK deur Ingrid Penzhorn

Carolien is ’n mediese student wat finansieel noustrop trek. ’n Medestudent, Saskia, vertel haar hoe sy maklik geld kan verdien deur ’n gesellin vir ’n welgestelde man te wees. Aanvanklik is sy baie bang, maar heel gou geniet sy Chris Claassen se geselskap en wat sy saam met hom beleef. Totdat sy ’n besope prof. Albertyn op ’n partytjie raakloop, en hy hom onbetaamlik gedra. Nadat sy afgestudeer is, sien sy en Josua in die koerant dat die professor van sy amp onthef is en dat die Gesondheidsberoepsraad begin ondersoek instel het na klagtes van vroulike pasiënte van dekades gelede. Toe Josua vra of sy Chris Claassen weer sal wil sien, sê sy: “Miskien. Maar vir nou is jy al man wat ek naby my wil hê.” Die spelers is Deon Lotz, Minke Marais, Conradie van Heerden, Karli Heine en André Weideman. Johan Rademan is die regisseur.

49:37

GEBAKTE PERE deur Karin du Toit

Marnus se eerste dag op universiteit kon nie met ’n groter skok begin het nie. Emma daag ná maande se stilswye skielik by die woonstelblok waarin hy sal tuisgaan op met die nuus dat hy die pa van ’n kind is. Sy laat die baba in die drie woonstelmaats se sorg, en sê sy het die fopspeen in haar motor vergeet. Sy kies die hasepad. Vyf dae lank het die drie probeer huishou met klein Peertjie, en uiteindelik bel Adriaan sy tante Magda om te vertel van Marnus se gebakte pere. Magda kom haal die kind, en vier jaar later by die gradeplegtigheid, is dit duidelik dat Marnus en Emma versoen is, en met Magda se hulp, die trotse ouers van die vierjarige Nathan is. Karen du Toit is as gesamentlike naaswenner aangewys in RSG se 2025 Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met ATKV. Die regisseur is Lelia Etsebeth, met Christopher van der Westhuizen, Dihan Keun, JJ Roberts, Izel Bezuidenhoud, Marina Coetzee en Gretha Brazelle in die rolverdeling.

51:39

DIE HERBERGIER deur Esta Steyn

Die herbergier van Betlehem wat vir Maria en Josef skuilplek gegee het en saam met sy gesin die geboorte van Jesus meegemaak het, woon in Jerusalem by sy oudste seun toe Jesus 33 jaar later gekruisig word. Hulle word gekonfronteer met die onvermydelike van sy teregstelling, maar ook met konflik in der midde as hulle jongste seun saam met die tempelwag optrek om Jesus gevange te neem. Die regisseur is Helena Hugo met Cobus Visser, Gigi Strydom, Martin Jansen, Bertha le Roux-Wahl, Eswé Bruwer en Anrich Herbst in die rolverdeling.

49:05

MEEU-RUS deur Jana Nortier

Stefan, Dawid de Kock se buite-egtelike kind, erf die familieplaas ná sy afsterwe. Elna en Hein, Dawid se kinders uit sy huwelik, betwis die testament, en roep die hulp in van Landi Arendse. Landi het egter ‘n geheim van haar eie. Die spelers is Ryno Hattingh, Kim Cloete, De Waal Stemmet, Stephanie Baartman, Christine Voorendyk en Francois van Rensburg. Die regisseurs is Christelle Webb-Joubert en Juanita de Villiers. Die drama is derde plek-wenner in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

54:47

'N WONDERWERK VIR KERSFEES deur Riana Scheepers

Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebasseer op 'n werklike gebeurtenis. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, 'n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief. Tannie Sara is ’n weduwee, Sy bedryf ‘n padwinkel wat groente, vrugte, tuisgemaakte produkte, melk en eiers verkoop. Wilhelm, haar seun, help haar op die plot. Sy ideaal is om eendag sy ma te ondersteun. Hy is begaafd en wil graag gaan studeer met die bietjie geld wat hy en sy ma bymekaar kon maak. Marie is Sara se dogter, en hoog swanger. Wilhelm het nie een goeie woord vir sy suster en haar kêrel, Chrisjan nie. Chrisjan identifiseer homself as ‘n profeet wat gedurig die Woord voorhou as sy morele kompas. Hy sien ‘n eienaardige ooreenkoms tussen Marie se swangerskap en dié van Maria met die geboorte van Jesus. Hy en Marie is nie getroud nie, maar onderneem om die kind groot te maak asof hy die Messias is. Dis Oukersdag, ‘n boom word versier, kerse word aangesteek, en ‘n feesmaal word voorberei vir die klein Barnard-gesin en Chrisjan. Die karakters wens elk vir hulle eie wonderwerk, en dit is die katalisator wat ‘n wonderwerk vir almal laat gebeur. Vir sommiges goed en vir ander minder goed.Die spelers is Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais. Johan Rademan is die regisseur.

54:11

PENDORING (EDMS) BEPERK deur Ampie van Straten

Die eksentrieke kopieskrywer, Gert Klopper se passie, Afrikaans, wat hy liefderik as sy “meisie” beskryf, bots met konvensionele taalreëls. Sarie, ’n jong vrou wat by Gert kom werk, is geboei deur sy ongekunstelde, avontuurlike taalgebruik, en sy sjarmante uitlatings oor sy taalliefde én haar gemmerkoekies!. Hulle humoristiese en hartlike verhouding is die hooffokus van die verhaal. Die rolverdeling is Katinka Heyns, Matthys du Toit, Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius, en Allewyn Lee. Roelf Jacobs het die regie behartig. Die klankbaan is opgeneem met ‘n lewendige orkes onder leiding van Theo Erasmus.

46:48

MISVERSTAND deur Anene Loots

Elna probeer haar wankelrige huwelik red deur vir haar man, Bert, ‘n verrassingspartytjie te reël om sy 60ste te vier. Bert raak agterdogtig, en kom tot sy eie gevolgtrekkings... Die spelers is Joanie Combrinck, Albert Maritz, Nic de Jager en Ané Fourie. Thomas van Niekerk debuteer as regisseur.

51:36

VLUGVOOS deur Ronel Mostert

Die weduwee Cumi was maar vir enkele maande met André getroud voor sy hom dood op die sitkamervloer aangetref het. Hulle het mekaar in Viëtnam ontmoet waar sy op vakansie was, en is ná ‘n blitsromanse getroud. Skielik is daar verskeie geheime wat nou op die lappe kom, soos dat haar oorlede man ‘n broer en ‘n ouma het waarvan sy nie geweet het nie. Hulle was ook nie van haar bestaan bewus nie. Sy weet ook nie eintlik wat André vir ‘n lewe gedoen het nie... En nou is sy die hoofverdagte in die moord. Wat het André weggesteek, en wat was die aard van sy transaksies in Viëtnam? Is Cumi so onskuldig soos wat sy voorgee? As sy nie die moord gepleeg het nie, wie het dan en hoekom? Die spelers is Juanita de Villiers, Mariëtte Engelen, Anton Engelen, Andreas Jordaan en Claudia Jones. Die regisseur is Ina Strydom.

52:06

VERMIS, OPHELIA deur Maria Vos

Nella kuier op ’n klein kusdorp om haar ouers te help intrek, maar nadat sy met die uitpakslag ’n klompie glase breek, besluit haar ma sy wat Nella is moet eerder die plaaslike kerkbasaar se reëlings oorneem. Dié eenvoudige guns ontaard in ’n besonder stresvolle geleentheid toe ’n boer met die verkeerde soort skenking opdaag, en die buurdorp se oorbedrywige polisiesersant die kleinvee aan die stert beetkry. Met Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet. Juanita de Villiers het die regie behartig.

52:50
Close

Save video to ...