Radioteater

Drama

Teater van die verbeelding. Die dramas word in twee seisone uitgesaai: April tot Junie en Oktober tot Desember.

MISVERSTAND deur Anene Loots

Elna probeer haar wankelrige huwelik red deur vir haar man, Bert, ‘n verrassingspartytjie te reël om sy 60ste te vier. Bert raak agterdogtig, en kom tot sy eie gevolgtrekkings... Die spelers is Joanie Combrinck, Albert Maritz, Nic de Jager en Ané Fourie. Thomas van Niekerk debuteer as regisseur.

51:36

VLUGVOOS deur Ronel Mostert

Die weduwee Cumi was maar vir enkele maande met André getroud voor sy hom dood op die sitkamervloer aangetref het. Hulle het mekaar in Viëtnam ontmoet waar sy op vakansie was, en is ná ‘n blitsromanse getroud. Skielik is daar verskeie geheime wat nou op die lappe kom, soos dat haar oorlede man ‘n broer en ‘n ouma het waarvan sy nie geweet het nie. Hulle was ook nie van haar bestaan bewus nie. Sy weet ook nie eintlik wat André vir ‘n lewe gedoen het nie... En nou is sy die hoofverdagte in die moord. Wat het André weggesteek, en wat was die aard van sy transaksies in Viëtnam? Is Cumi so onskuldig soos wat sy voorgee? As sy nie die moord gepleeg het nie, wie het dan en hoekom? Die spelers is Juanita de Villiers, Mariëtte Engelen, Anton Engelen, Andreas Jordaan en Claudia Jones. Die regisseur is Ina Strydom.

52:06

VERMIS, OPHELIA deur Maria Vos

Nella kuier op ’n klein kusdorp om haar ouers te help intrek, maar nadat sy met die uitpakslag ’n klompie glase breek, besluit haar ma sy wat Nella is moet eerder die plaaslike kerkbasaar se reëlings oorneem. Dié eenvoudige guns ontaard in ’n besonder stresvolle geleentheid toe ’n boer met die verkeerde soort skenking opdaag, en die buurdorp se oorbedrywige polisiesersant die kleinvee aan die stert beetkry. Met Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet. Juanita de Villiers het die regie behartig.

52:50

EINDFLUITJIE deur Albert Short

Waar was jy tydens die 1995 Rugby Wêreldbeker-eindstryd? Onthou jy nog Stransky se skepskop? Regisseur Johan Rademan was saam met Heinrich Marnitz 30 jaar gelede in die kommentaarspan, en al die aksie en drama word verweef in Albert Short se radioteater, EINDFLUITJIE. ‘n Seun wie se droom om eendag die groen-en-goud te dra, het nie kaartjies vir die eindstryd nie, maar beland langs die Ellispark-rugbystadion waar hy wonderwerke beleef en ‘n liefde ontdek in ondernemende geselskap. Die drie skoliere word vertolk deur Stefan Vermaak, Jane de Wet en Eloff Snyman. Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel en Deon Lotz verteenwoordig die ouer garde. In hierdie drama, onder regie van Johan Rademan, beleef jy saam die 15-12 Springbok-oorwinning oor die All Blacks, en al die skoppe, waarvan drie skepskoppe.

57:29

DESEMBERSTERRE deur Helena Hugo

Die lewe van bekende sepiesterre prikkel die verbeelding van Jan Alleman. Voorblaaie vertel die stories van hulle lewe agter die kameras. Deesdae neem sterre die storie in hulle eie hande, en deel dit op sosiale media. Dit vertel steeds net geselekteerde en soms gepoetste weergawes van wat die sterre en die vervaardigers met ons wil deel. DESEMBERSTERRE bied ‘n humoristiese kyk op die regte lewe van ‘n paar sepiesterre, en ons leer meer oor hulle persoonlike en professionele uitdagings. Die spelers is Lizelle Pike, Dihan Keun, Botha Enslin, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor en Rian Terblanche. Estel de Beer het die regie behartig.

58:29

DAAR LEEF MENSE DAAR deur Athol Fugard

Die drama speel af in ‘n vervalle losieshuis in Johannesburg. Millie, die middeljarige eienaar van die losieshuis, wat afgesonder en onvergenoegd voel, probeer tevergeefs die aandag van ‘n lang verlore kennis trek. Sy beraam planne om vir die buitewêreld te wys dat haar lewe en haar huis nog ‘n plek is waar mense kan leef. Die loseerders word opgekommandeer om haar met hierdie planne by te staan. Don is ‘n filosoof van aard, wat sy intellektuele vermoë laat geld deur gedurig Millie se geestestoestand te ontleed. Shorty, ‘n ongeskoolde posbode, loseer saam met sy vrou, Sissy, by Millie. Op die vooraand van haar verjaarsdag besluit sy om 'n partytjie saam met haar loseerders te hou, in 'n poging om te bevestig dat "mense daar woon", dat hulle lewe betekenis het ten spyte van hulle onbekendheid en eensaamheid. Soos die aand ontvou, verander die partytjie in 'n rou, emosionele konfrontasie oor mislukking, veroudering en die behoefte aan menslike verbintenis. In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick. Marko van der Colff het die drama in Afrikaans vertaal. Margot Luyt het dit vir die radio verwerk, en die regie behartig.

01:15:36

TWEE GRAFGRAWERS EN ‘N MELKHOUT deur Jaco Versveld

Bruce en Brendan grawe saam grafte. Albei om verskillende redes. Bruce spaar vir ‘n operasie sodat sy siek kind weer kan loop. Brendan dien gemeenskapsdiens uit vir bedrog. Of só sê hy... Wanneer Brendan skielik agterdogtige vrae begin vra oor die begraafplaas en hoe dinge daar werk, begin Bruce wonder of daar meer as net ‘n kis en ‘n kluit by Brendan se belangstelling betrokke is. Die drama is die wenner van die merieteprys in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Die spelers is Phillru van Achterbergh, Mortimer Williams, Kevin Smith, Francois Stemmet en Izette Blignaut. Die regisseur is Renske Jacobs.

01:03:58

GENADE, PROFESSOOR! deur Nico Luwes

Die Rachmaninoff-liefhebbende professor Weiss is peinsend besig met die taak om sy geliefde musiekdepartement te probeer red. Met die soeke na oplossings word dit baie duidelik dat nie alles in sy departement se kluis pluis is nie: kontant-kaartjieverkope by konserte verdwyn spoorloos. Dit word sy en sy kollega, mev. Schimper, se taak om die raaisel op te los, maar daar is ‘n moontlikheid dat hulle twee dalk meer as net romantiese vonke met mekaar deel. So word ons heldin, mej. Stamper, ook in die misterieuse sage ingetrek. Sy is die lojale sekretaresse van prof. Weiss, maar kan sy haarself neutraal hou sodat die ware skobbejak vasgetrek word? As ‘n toegewyde katliefhebber verkies sy haar Mephistophelies se geselskap bo haar mededepartementslede se leuens en verdagte gedrag. Maar wie is die werklike geldgierige skuldige? Die spelers is André Odendaal, Bertha le Roux-Wahl, Sulette Thompson, Botha Enslin en Mada Oosthuizen. GENADE, PROFESSOOR! was ’n finalis in die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie. Die regie word behartig deur Karen Wessels.

49:58

‘N STASIE IN DIE NIET deur Chris Barnard

Chris Barnard het hierdie radiodrama in 1970 geskryf. ’n Man se huwelik is op die rotse. Hy knoop ‘n verhouding aan met ‘n veel jonger vrou. Dit speel af in ‘n hotel langs die see, met deurlopende terugflitse. Die trein word ingespan as leitmotief en bindende metafoor. Die akteurs in hierdie “herverbeelde” radiodrama is: Anrich Herbst, Karli Heine en Neels van Jaarsveld. Frieda van den Heever het die regie behartig.

01:41:54

DIE BESOEKER deur Herman Cronjé

‘n Dertienjarige meisie is dood in ’n tref-en-trap-ongeluk in die jare 90. Die ongeluk het naby Truida en Karel Conradie se huis plaasgevind. Die twee moet iets van die ongeluk weet, want Karel neem sy eie lewe, en Truida word jare later gediagnoseer met ’n erge geestessiekte. Marko, hulle seun, vind die waarheid uit wanneer hy en ’n vriend ‘n toegeboude agterdeur in die kombuis ontdek. Hierdie deur laat hom teruggaan in tyd, en so vind hy uit hoekom sy pa sy eie lewe geneem het, en waarom sy ma opeindig in Neurobergh, die psigiatriese hospitaal op die dorp. En ook wie verantwoordelik is vir die meisie se geheimsinnige dood. Die spelers is Rina Nienaber, Ilse Klink, Donovan Pietersen, James Borthwick en Johan Joubert. Johny Klein het die regie behartig.

01:06:32

DIE DAMHUIS deur Reinet en Dirk Nagtegaal

Wat deesdae die Damhuis-restaurant op Melkbosstrand aan die Weskus is, was nagenoeg 240 jaar gelede deel van die plaasopstal van ene kaptein Christiaan Brand. Toe die kaptein, sy vrou Gesina, en twee slawe, Kassien April en ’n jong vrou genaamd Mali, n die laat 1700’s daar aangekom het, was daar niks. Net melkbosse. Hulle het jare lank aan ’n woonhuis en ’n visskuur gebou waarin die Brands soutvis gedroog het – net soos wat daar vandag nog aan die Weskus bokkoms gemaak word. Die verhaal strek oor etlike dekades – van Christiaan en Gesina se troudag, tot ver verby hulle afsterwe. Dit speel af teen die agtergrond van ’n baie verwarrende era in die geskiedenis, toe die Kaap binne ’n kwessie van tien jaar eers onder Nederlandse, toe Britse, toe Bataafse en toe wéér Britse bewind was. Hierdie politieke skommelinge, onsekerhede oor grondbesit en die moontlike bedreiging van ’n oorlog waarna Christiaan as oud-offisier dalk weer opgeroep kan word, sorg vir ’n spannende storielyn. Dit vertel ook hoe die hegste familiebande soms niks met bloed te make het nie. In die twee vroulike hoofrolle is Erica Wessels en Lee-Ann van Rooi. Die ander spelers isn André Terblanché, David Isaacs, Èmil Haarhoff, Nienke Geldenhuys en Albert Smit. Vir die radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg. Die regisseur is Sophia van Taak.

01:08:08

DIE LAASTE ONTSNAPPING deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard

Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn, die antiheld van Sel 6, om hom dood te steek. Roux weier – hy is immers ‘n bendelid en dwelmsmous, nie ’n moordenaar nie. Hy besluit om eerder vir Lupin te help ontsnap. Maar, gevangenes kan tot twee jaar af kry as hulle ‘n ontsnapping rapporteer. Sal Lupin daarin slaag om te ontsnap, of sal Roux sy vriend doodsteek? Die spelers is André Odendaal, JJ Roberts, Phillru van Achterberg, Donoven Pietersen, Mortimer Williams en Cassius Davids. Eddie de Jager het die regie behartig.

01:00:19

BROODLYN deur Hein Poole

As kind het Franklyn die besluit gemaak om nooit weer onder die broodlyn te lewe nie. Hy sal self bepaal waar die broodlyn lê. Maar regverdig die doel altyd die middele? As enkelouer het hy altyd sy seuns eerste geplaas, maar dié twee het hulle eie agendas. Hoe gemaak as jou gesag skielik bevraagteken word, jou naastes jou verraai, en dit lyk asof jy nie eers op jou eie geheue kan staatmaak nie? Hierdie vrae maal in Franklyn se kop... Die spelers is André Samuels, Hein Poole, Angelo Bergh, Ingrid Vraagom, Lee Roodt en Karli Heine. Die regie is behartig deur Chloè van Rooyen.

01:06:47

HOSPITAALSAAL IN BLOEM deur Albert Maritz

Die drama speel af in ‘n psigiatriese saal van ‘n hospitaal, waar ‘n klompie dienspligtiges tydens die apartheidsjare hulle bevind. Die jong mans se ervaring van die grensoorlog en die posttraumatiese stres wat dit tot gevolg gehad het, word belig. Sommiges was recces, 32 bataljon geharde soldate, en sommiges wou graag grens toe gaan, maar is medies ongeskik verklaar. Die drama bevat volwasse inhoud en taalgebruik wat sensitiewe luisteraars kan ontstel. Die spelers is Viljee Maritz, Wessel Pretorius, Pieter van Zyl, Carel Nel, André Terblanche, Pedro Camara en Tanja Franzen. Die regisseur is Joanie Combrink.

49:07

ROOI PAPAWER deur SD Fourie

Thea en haar suster Anna se verhouding is problematies. Thea verstaan nie hoekom Anna oorbeskermend teenoor haar optree nie, en sy kom in opstand daarteen. Sy glo Anna het haar te jonk in ‘n huwelik ingedwing. Thea ervaar trauma en sy beland in ‘n senukliniek. Om haar te help herstel, neem Anna haar Ciprus toe vir ‘n vakansie. Daar ontmoet sy iemand wat uiteindelik verstaan hoe sy voel. Sy sien ook wat volgens die Griekse mitologie die geboorteplek van Afrodite, godin van skoonheid en liefde, is. Sy het nog altyd gevoel asof sy ‘n spirituele band met Afrodite het. Wanneer sy vier maal om die godin se rots in die see by Pafos probeer swem, het dit verreikende gevolge – sowel groot hartseer as verligting. Die spelers is Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon, Louise Eksteen en Stephanie Baartman. Die regisseur is Mari Snyman.

53:15

MY JAPAN deur Schalk Schoombie

Op 11 Maart 2011 het ʼn verwoestende tsoenami Japan getref. ʼn Onderwyseres wat Engels in Japan gee, Angelique Naudé, het die ramp eerstehands meegemaak. Sy het haar ervarings en indrukke met die bekende joernalis, Schalk Schoombie, gedeel. Schalk het dit in ʼn pryswennende jeugdrama verwerk, en toe as radiodrama. Die verwoestende gebeure word deur verskeie karakters se oë uitgebeeld. Die spelers is Donna-Lee Roberts, Rolanda Marais, Melt Sieberhagen, Stefan Vermaak, Christine Voorendyk en Ursula Vorster. Die regisseur is Leon van Nierop.

59:26

AS KLUISE KON PRAAT deur Marion Erskine

Die verhaal is losweg gebaseer op die 1977 Krugersdorp-bankroof, wat tot vandag toe nog nie opgelos is nie. Vier mynwerkers besluit hulle gaan die grootste bankroof in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitvoer. Hulle beplanning was so fyn dat geen spoor agtergelaat is nie - net ‘n paar rooi gesigte en vier Elvis-maskers. Charlie Bouguenon, Karen Wessels, Kaz McFadden, Estelle Grobler, Kevin Smith, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer is te hoor in hierdie raaiselagtige drama. Leon van Nierop is die regisseur.

53:10

KEN JY VIR FYTJIE ELAND? deur Eben Cruywagen

Dit is die jaar 1913. Iewers tussen Griekwastad en Campbell boer Johannes Eland en sy broerse met skaap en bees. Sy vrou, Katrina, is ’n nasaat van die groot Adam Kok I. Hulle sestienjarige dogter, Fytjie, is verlief op Tariq Mentoor, ’n man van minstens tien jaar haar senior, wat vir ’n diamantdelwer aan die oewer van die Garieprivier in die omgewing van Douglas werk. Wanneer Johannes haar verbied om enige kontak met die man te hê, verdwyn sy skielik een nag. Sonder geld, maar met die vaste geloof dat hulle Fytjie sal opspoor, lei hulle soektog te voet na Douglas en vandaar na Kimberley met die hulp van ’n transportryer. Vandaar ry hulle (onwettig) per goederetrein na Kaapstad, waar Jamila Allie hulle in die Bo-Kaap werk en huisvesting bied. Ná tien jaar en ’n vrugtelose soek na Fytjie, sterf Jamila in Desember 1923 aan maagkanker, en word Johannes en Katrina op grond van Jamila se getuigskrif onderskeidelik as tuinier en kok aangestel in diens van senator Christiaan Brand en sy vrou, Francina, ’n maatskaplike werkster. Sestien maande later op 8 Mei 1925 kan Christiaan Brand die oorwinning vir Afrikaans as amptelike taal met dankbaarheid en trots deel met Johannes Eland, met wie hy ’n noue band oor die verloop van daardie tydperk ontwikkel het. Maar wanneer sou Johannes en Katrina dan kon ophou om die Kaapse strate te deurkruis en feitlik elke mens, vol hoop en geloof die vraag te vra: Ken jy vir Fytjie Eland? Die rolverdeling sluit in Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne. Gavin Mathys het die aksentafrigting behartig. Die regisseur is Lelia Etsebeth.

01:16:10

KONNEKSIE deur Marion Erskine

Verbeel jou jy is in 2050 waar kunsmatige intelligensie tot jou voordeel... of nadeel kan strek. Dawid le Roux is ‘n rekenaarprogrammeerder. Hy is nie te vinde vir te veel geselskap nie, en is tevrede net met Amanda. Hy word egter gekonfronteer met die kunsmatige wêreld wat hy vir homself skep. Verkies jy eerder ʼn kantoor vol mense en ’n lewensmaat, of beheerde eensaamheid? ‘n Wêreld van tegnologie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie. Die spelers is Deon Lotz, Sharfa du Plessis, Anrich Herbst, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Karli Heine en June van Merch. KONNEKSIE is die wendrama van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Die regisseur is Johan Rademan.

01:08:38

LENIESGIF deur Hendie Grobbelaar

Benjamin de Kai is ʼn uitgebrande en ontnugterde liefdesverhaalskrywer wat probeer om ʼn ernstige roman die lig te laat sien. Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, dwing hom om by Leniesgif, haar afgeleë familiehuis langs die Kaapse Suidkus, te gaan werk sodat hy kan fokus en sy manuskrip voltooi. Leniesgif is egter die woonplek van ʼn paar spoke, soos Benjamin tot sy ontsteltenis ontdek. Lenie Kruger, haar stiefdogter Hanna, die bekkige Franse matroos Thomas en die pratende hond Goebbels het elkeen ʼn geheim en ʼn versugting om afsluiting. Dan is daar natuurlik die weggesteekte skat, en hoe pas Benjamin in Dania se slinkse plan? Amor Tredoux is die regisseur met Carel Nel die rol van Benjamin vertolk. Lochner de Kock, Ronel Geldenhuys, Conradie van Heerden, Talana Rossouw en Anene Loots voltooi die ensemble.

01:07:10
Close

Save video to ...