listen to RSG Dokumentêr

RSG Dokumentêr
RSG Dokumentêr

RSG Dokumentêr

Documentary

'n Reeks dokumentêre programme deur 'n span gesoute RSG en SABC omroepers en joernaliste

SUID-AFRIKA SE KAALVOETKONINGIN, ZOLA BUDD deur Jody Hendricks

Zola Budd is bekend is vir haar kaalvoetstyl, wêreldrekords en ’n Olimpiese loopbaan, waarin sy vir twee lande deelgeneem het. Sy het die 5000 m-wêreldrekord in 1984 verbeter, maar dit is nie internasionaal erken nie. Sy het ook vir Groot Brittanje by die 1984 Olimpiese Spele aan die 3000 m deelgeneem, waar haar botsing met Mary Decker regoor die wêreld hoofnuus gemaak het. Jody Hendricks praat met Zola oor haar loopbaan se hoogtepunte en omstrede oomblike. Haar destydse afrigter, Pieter Labuschagné, vertel van die uitdagings wat hulle oorsee in die gesig gestaar het.

26:41

KOEBAAI KELDERS VAN GEHEIME deur Haidee Muller-Isaacs

KELDERS VAN GEHEIME was eTV se eerste plaaslik vervaardigde Afrikaanse daaglikse drama oor al die intrige, liefdeskinkels en donker geheime op die fiktiewe wynplaas, Soebatskloof, in die Kaapse wynlande. Die uitsaaier het ná net twee seisoene besluit om die reeks te kelder, in weerwil daarvan dat dié Safta-genomineerde reeks supergewild onder kykers was. Van die akteurs wat daarin verskyn het, soos Sandra Prinsloo, Cedwyn Joel, Brümilda van Rensburg en 'n hele rits ander, gesels oor hulle ervaring op stel. En die sanger en musiekvervaardiger, Loki Rothman, vertel van die temalied uit sy pen, wat deur Les Javan gesing is.

29:43

DIE GIF IN JOU HAND: DIE ONSIGBARE PRYS VAN E-ROMMEL deur Lizelle de Bruin

Ons almal het daardie laai vol ou selfone, kabels en toestelle wat ons lankal nie meer gebruik nie, en niemand weet wat daarmee gebeur as jy dit weggooi nie. Lizelle de Bruin en Niel Roux het besluit om hulle kantoor skoon te maak, en met ’n klomp ou elektroniese toestelle na ’n afvalfasiliteit te ry om self te gaan uitvind. Lizelle vra die moeilike vrae oor hoe Suid-Afrika met elektroniese afval omgaan. Hierna sal jy dalk twee keer dink voordat jy daardie ou selfoon sommer in die asblik gooi.

26:37

DIS JOU PAD, MAGDA deur Ina Strydom

Magda van Biljon sal vir baie mense altyd die “Wielie Walie-tannie” wees, want sy het dié program op SAUK-televisie vir 14 jaar lank aangebied. Maar haar talent én haar bydrae tot die kuns- en vermaakbedryf strek baie verder. Sy vertel onder meer van die verskillende aspekte van haar loopbaan; hoe sy haar man Zack du Plessis ontmoet het en hoe verpletter sy was met sy dood; en sy sê wat vir haar die belangrikste dinge in die lewe is.

26:28

SIEKEFONDS OF SKYNVEILIG? deur Mari Hudson

As die ongebreidelde styging in mediesefondspremies en private gesondheidsorg aanhou voortduur, kan private sorg buite bereik van nog meer mense raak. Is dit enigsins nog die moeite werd om aan ‘n mediese fonds te behoort? Mari Hudson het gaan uitvind hoe werk mediese fondse in Suid-Afrika, hoekom die kostes so hoog is, en wat die oplossing is. En hoekom niks die afgelope dekades gedoen is om die probleme op te los nie.

25:04

DIE GEVAAR IN ONS GROEN ARE deur Esté de Klerk

Hoe besoedel is Suid-Afrika se riviere? Wat veroorsaak dit? Wie is verantwoordelik daarvoor? Ontbreek daar ‘n politieke wil? Is daar ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid op regeringsvlak om ‘n toenemende natuurramp af te weer? Is dit te laat om hierdie situasie om te keer? Esté de Klerk stel ondersoek in na hoe besoedel Gauteng se riviere is, hoe krities die probleem is, en of die verandering aan waterwetgewing moontlik hoop op verantwoordbaarheid kan meebring.

29:47

DIE LANGPAD deur Ettienne Ludick

Om ’n langafstand-vragmotorbestuurder te wees, is nie in elke mens se bloed nie. Dis lang ure weg van jou geliefdes, en gevare op die pad wat genavigeer moet word. Ons pak ‘n reis aan saam met drie langafstanddrywers, wat die menswees agter die stuur van tonne vrag ontbloot. Hoor die passie, die gevare, die vrese en die verlange van diegene wat die land aan die gang hou met 18 wiele of meer, elke dag op Suid-Afrika se besigste roetes.

25:53

NIE VIR HAAR GEBOU: DIE GESLAGSGAPING IN DIE ONGELUK deur Martelize Brink

Vroue is meer geneig om ernstig beseer te word, of te sterf, in motorongelukke as mans, met 'n 73% hoër waarskynlikheid van ernstige beserings in vergelykbare ongelukke. Vroue ly meer beserings aan die onderste ledemate, buik en bors, terwyl mans meer geneig is tot rugbeserings en, oor die algemeen, meer noodlottige ongelukke. Motors is oor die jare volgens mans se liggame ontwerp. Selfs die veiligheidstoetse is met manlike botstoetspoppe gedoen. Nuwe, meer akkurate vroulike botstoetspoppe word ontwikkel wat 150 sensors bevat om die spesifieke impak op 'n vrou se liggaam te meet. Martelize Brink praat onder meer met die Sweedse navorser wat die eerste vroulike botstoetspop ontwikkel het, prof. Astrid Linder.

25:30

MET DIE HELM GEBORE deur Flip Loots

Die sien van rampe, voorbodes, geluk, besonder gelukkig wees - dit is alles woorde wat gebruik word vir iemand wat in die volksmond bekendstaan as “met die helm gebore” te wees. Maar wat beteken dit? Die verskynsel dat baba’s met die vrugwatersak (helm) oor die kop gebore word, is baie skaars. Flip Loots bespreek dit met ’n geneesheer en twee predikante, en ’n paar mense vertel van hulle belewenis daarvan om met die helm gebore te wees.

26:19

MUSIEK IN DIE ARE: GESLAGTE VAN PAPIER-MUSIEK deur Carla Mackenzie

Die Papier Family Band se musiek vertel die verhaal van familie, erfenis en die unieke ritmes wat al geslagte lank deel vorm van Suid-Afrika se musikale geskiedenis. Sedert 1932 weerklink die klanke van die Papier-familie deur Franschhoek se strate. Vandag speel hulle nie net vir hulle gemeenskap nie, maar ook op wêreldverhoë. Hierdie is die verhaal van 'n familie wie se musiek hulle van die Boland tot by die Chelsea Blommeskou in Londen geneem het. Die familie is veral bekend as die Papier Langarm Orkes of Papier Family Band. Die orkes bestaan uit pa, kleinseun en familielede wat 'n musikale nalatenskap voortsit wat deur hulle pa, Marthinus Papier, begin is. Vandag speel Frank Papier (77) die trekklavier en kleinseun Greagan (13) elf instrumente, en so leef meer as 100 jaar se musiekervaring in die familie voort. Greagan is onlangs vir ‘n KKNK KANNA-toekenning benoem vir Beste Musiekspel by die ABSA KKNK 2026.

22:21

’N PADDA IS ‘N DING WAT SPRING, OF NIE? deur Kobus Rudolph

Hoekom kry mens paddas in jou huis? Kan ‘n padda muurklim? Hoekom verdrink paddas as hulle amfibieërs is? Kry mens vratjies van paddas? Is paddas giftig? Reën dit paddas as daar dan so baie paddas is wanneer dit reën? Hoekom kwaak ‘n padda? Hoe lank slaap ‘n padda in die winter? Waar bly paddas? Prof. Louis du Preez van die Departement Dierkunde aan die Noordwes-Universiteit doen al vir langer as 30 jaar navorsing op parasiete en paddas. Tydens sy navorsing het hy besef dat van die parasiete in die blase van paddas voorkom. Dit het gelei tot sy intense navorsing op paddas as amfibieërs. Hy en sy mede-navorsers het die afgelope twee dekades dit reggekry om unieke en pragtige, suiwer geluide van 160 verskillende paddaspesies op te neem.

27:08

WAT LAG JY? deur Ina Strydom

Humor is so oud soos die berge – en deel van die menslike bestaan. Daar is ook talle genres van humor, en dit word in talle vorme aangebied. Verskeie kenners praat oor lag en humor: waarvoor en hoekom lag mense; wat gebeur in die brein as ‘n mens lag; en hoe word humor deur die tydsgees beïnvloed.

23:17

IN DIE SKADU VAN VERSLAWING deur Jaco de Waal

Verslawing begin nie altyd met ’n groot besluit nie. Soms begin dit stil, en voor jy dit besef, het dit jou hele lewe oorgeneem. Jaco de Waal kyk na wat werklik gebeur wanneer iemand verslaaf raak – van die brein se reaksie tot die emosionele en persoonlike stories daaragter. Ons hoor van kenners, mense in herstel en families wat saam die pad stap.

26:55

O, VLOEK! OM TE SWETS OF NIE? deur Esté de Klerk

Is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen jou vriende is, en glad nie wanneer jy by jou ma is nie? Swets jy meestal in Afrikaans, of in Engels? Wat bewys die navorsing hieroor? Wat is die kraswoord wat Suid-Afrikaners die meeste gebruik? Gebruik mense vloekwoorde in verskillende sosiale omstandighede om ‘n identiteit aan te neem? Wat presies gebeur in jou brein wanneer jy ‘n vloekwoord uiter? Was daar kraswoorde in die Bybel, wat oor die jare uitvertaal is? En kan die sê van ‘n vloekwoord jou pyn verlig? Esté de Klerk krap so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het. WAARSKUWING: Daar is inhoud in dié dokumentêr wat sensitiewe luisteraars kan ontstel.

25:59

VRYLOOP: IS DIT WAARLIK “VRY”? deur Martelize Brink

Jy koop vryloop, of te wel “free range”-produkte, want jy wil die gesondste moontlike produk eet, of jy gee om vir die lewenskwaliteit van die dier en hulle welsyn. Maar, weet jy wat daardie etiket op die produk waarlik aandui? Beteken vryloop altyd gelukkige diere wat vrylik beweeg? Indien dit wel die geval is, is die diere waarlik gesonder? Is dit gesonder vir jou as verbruiker? Hoe pas hierdie boerderypraktyke in by volhoubare voedselverskaffing?

25:31

DIE SOEKTOG NA LUITENANT MULLER MEIRING SE RATEL deur Kobus Rudolph

Honderd en vyf oudsoldate en ouddienspligtes het in 2018 na Angola gereis op die ou paaie van slagvelde en gevegte. Dié toer is aangebied deur 61 Gemeganiseerde Bataljon se Militêre Veteranevereniging. Baie van die mans wroeg al vir jare oor die hartseer en pyn wat hulle as jong seuns ervaar het. Skaars 18 en 19 jaar oud, en hulle moes gaan veg, die dood in die oë staar en ‘n vyand doodmaak. Nog ‘n belangrike rede hoekom sommige op die toer gekom het, was om te gaan soek na Luitenant Muller Meiring se Ratel 72, iewers in die bosse in Angola. Muller se Ratel is op 27 Junie 1988 klaarblyklik deur ’n RPG-vuurpyl getref tydens ‘n dramatiese hinderlaag. Sewe van sy oudmakkers het spesiaal gekom om na die slagveld te kom kyk waar hulle geveg het. Kobus Rudolph praat met Muller se ma, Suzanne Meiring, wat vertel van die geweldige skok, hartseer en trauma. Die Meirings het hulle familieplaas in Verkeerdevlei buite Bloemfontein verkoop, en na Australië verhuis. Hy praat ook met Daniel Potgieter, wat die kanonier op die Ratel was. Hy het langs Muller Meiring gesit toe die vuurpyl hulle tydens die hinderlaag getref het.

27:05

ROGER SEDRES WÊRELDKLAS-SPORTFOTOGRAAF SONDER AANSIT deur Haidee Muller-Isaacs

Met verskeie Olimpiese Spele en ander internasionale sportbyeenkomste agter die blad, het Roger baie belangrike oomblikke in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis vasgevang. Hy is tans Span SA se amptelike sportfotograaf. Roger het ikoniese foto’s geneem van Suid-Afrikaanse sportsterre soos Chad le Clos en Wayde van Niekerk by die Olimpiese Spele en ander groot sportbyeenkomste. In 2025 het hy die Sport Visual Journalist of the Year-toekenning by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings gewen, en hy het in 2022 ook die Fotograaf van die Jaar-toekenning ontvang. Hierdie dokumentêr bied 'n intieme kykie na Sedres se loopbaan, sy benadering tot sportfotografie, en die rol wat sy unieke foto’s speel in hoe sport gesien en onthou word.

28:52

HET ONS NOG GROEN VINGERS? deur Tharien Oosthuizen

Het jy geweet die krag van groen vingers lê nie net in wat ons kan kweek nie, maar in hoe die praktyk van tuinmaak ons psige voed. Om ’n tuin te beplan, plante te versorg, en te sien hoe saadjies lewe bring, het ’n terapeutiese waarde wat fokus, rus en emosionele stabiliteit bevorder. Tharien Oosthuizrn kry ook praktiese wenke vir tuinmaak in beperkte ruimtes, en hoor wat die waarde van plaaslike kwekerye is vir regte advies en ondersteuning.

26:15

AGTER DIE MUSIEK: VAN SKOUSPEL TOT GROOT deur Wihann Nel

Van Huisgenoot Skouspel se glansdae tot Afrikaans is Groot se twee naweke van uitverkoopte vertonings – hierdie dokumentêr neem jou op ’n klankgedrewe reis deur die ontwikkeling van Afrikaanse musiekkonserte in Suid-Afrika. Wihann Nel ondersoek hoe hierdie groot produksies nie net kunstenaars se loopbane gevorm het nie, maar ook ’n hele kultuur van saamwees, trots en emosie met Afrikaanse musiek geskep het. Dié verhaal word vertel met onderhoude, argiefmateriaal en persoonlike stories van hoe die verhoog die hartklop van Afrikaans geword het.

22:40

REUSE WAT REKORDS LAAT SPAT deur Flip Loots

Die prestasies van entrepreneur Billy Cowley en haarkapper André Green het hulle elk twee Guinness Book of Records laat behaal. Billy het eers 420 g Marmite binne een uur geëet, en toe ‘n kar vol kankerstrikkies geplak. André het eers binne 24 uur die meeste vroue se hare gesny, en toe onderwater die meeste vroue se hare binne een uur gesny.

28:05
Close

Save video to ...