listen to RSG Nuus en Aktualiteit
Psigaters waarsku dat niks wat jy aan kletsbotte sê privaat is nie...
Wanneer iemand omstreeks drie-uur die oggend angstig, oorweldig of emosioneel is, is 'n sielkundige of psigiater dalk nie beskikbaar nie, maar 'n KI-kletsbot is net 'n paar tikke weg. Al hoe meer mense wend hulle deesdae tot kunsmatige intelligensie vir emosionele ondersteuning, want hulle glo professionele geestes-gesondheid-sorg is onbekostigbaar en ontoeganklik. Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters waarsku egter dat die raad wat kletsbotte oor geestesgesondheid verskaf, meer skade as goed kan doen. Ons praat meer hieroor met 'n psigiater en lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters, Dr Melané van Zyl,
DIGNITY SA gaan hooggeregshof toe oor bystandsdood...
Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan nie 'n hofaansoek om wetgewing wat mediese bystanddood kriminaliseer, ongrondwetlik en ongeldig te laat verklaar, teenstaan nie. Dignity SA het dié aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring. Dié organisasie voer aan dat mense wat aan ongeneeslike siektes en erge pyn ly, ook die reg op menswaardigheid en liggaamlike outonomie, behoort te hê. Die mede-stigter van DignitySA, professor Willem Landman, sluit nou by ons aan…
Wat is die impak op Suid-Afrika as die Bab-Al-Mandeb-seestraat gesluit word?
Die Houthi-rebelle in Jemen, wat Iranse bondgenote is, het die belangrike olie vervoer-roete, die Bab al-Mandeb-seestraat, gesluit vir Saoedi-Arabiese skepe. Die Houthi-beweging sê ses skepe het intussen in die Rooisee omgedraai sedert hy sy maritieme blokkade op Saudi Arabië aangekondig het. Daar word berig dat twee swaar gelaaide tenkskepe nou 'n ander roete begin invaar het, wat baie duurder sal wees. Die BBC se Joanna Keen het meer besonderhede.
Gaan jou huis onteien word vir die Gautrain se uitbreiding?
Die Gautrein se roetes gaan binnekort uitgebrei word met 19 nuwe stasies wat oor die volgende 15 jaar beplan word. Maar ten spyte van dié goeie nuus oor beter openbare vervoer, is daar ook die baie sensitiewe kwessie van grondonteiening om plek te maak vir die treinspore. Voorstede en woongebiede soos Soweto en Mamelodi, asook dele van die Wes-Rand gaan eerste geraak word. Maar wat beteken dit vir woonhuise en besighede wat in die pad van die nuwe spore lê? Cor van Deventer, die direkteur van Aktebesorging by Van Deventer Dowlath & Marx het aan Monitor verduidelik hoe die onteieningsproses sal werk en waar jy moet kyk om seker dat dat jy nie geraak word nie.
Uitspraak deur hooggeregshof skep verwarring in egskeidings
Die Hooggeregshof in Kaapstad het onlangs beslis dat die lex domicilii matrimonii-reël ongrondwetlik is, omdat dit outomaties voorkeer gee aan die man in die egskeidings prosedures. Die hof het bevind dat dit ongrondwetlik is, omdat dit 'n voordeel kan gee aan net een party in die skeisaak. Vir wat die implikasies is van die uitspraak praat ons nou met Shando Theron van Theron Ingelyf, wat in Familereg spesialiseer...
Operasie Prosper is nie regtig suksesvol nie meen kenner
Die polisie is besig met 'n ondersoek na verskeie klagtes van brutaliteit deur lede van Operasie Prosper teen die publiek. Die polisie wil glo nie op die stadium te veel besonderhede bekend maak oor die hoeveelheid en aard van die klagtes nie. Die jongste klagte is egter van 'n man in Elsies Rivier in die Wes Kaap, wat glo so erg deur polisielede tydens die operasie aangerand is, dat hy sy bewussyn verloor het. Ons praat met 'n Direkteur van Sekuriteit vir die Verenigde Nasies in Hoë risiko lande en 'n voormalige senior weermag offisier Chris du Toit.
Ons MeerkKAT-radioteleskoop: 8 jaar van baanbreker-wetenskaplike ontdekkings
Die MeerKAT-radioteleskoop, sowat 90-kilometer buite Carnarvon in die Noord-Kaap, word wêreldwyd as een van die kragtigste radioteleskope van sy soort beskou. Sedert dit in Julie 2018 in gebruik geneem is, het dit baanbreker-ontdekkings gemaak: sterrekundiges van regoor die wêreld het tot dusver meer as 700 navorsingsartikels gebasseer op MeerKAT-data in toonaangewende internasionale vaktydskrifte gepubliseer. Dit is dalk een maatstaf van die teleskoop se sukses, maar watter impak het MeerKAT werklik gehad op die wetenskap, Suid-Afrika en die wêreld? Om dié vraag te beantwoord, het ons op Monitor met Professor Pieter Meintjies van die Astrofisika Navorsingsgroep by die Universiteit van die Vrystaat gepraat.
Die ombud van die Onafhanklike Direktoraat teen Korrupsie ondersoek klagtes teen verskeie senior amptenare van dié instelling.
Die pas-aangestelde ombud van die Onafhanklike Direktoraat teen Korrupsie - of Idac, die afgetrede regter, Joseph Raulinga het bevestig dat sy kantoor klagtes ondersoek teen verskeie senior amptenare van dié instelling. Hy wou hulle egter nie identifiseer nie, en sê die integriteit van die ondersoekproses vereis dat alle betrokke partye beskerm word. Die aanstelling van die ombud volg na bewerings voor die Madlanga-kommissie oor wangedrag en magsmisbruik deur sekere senior Idac-amptenare. Raulinga het gepraat by 'n mediakonferensie in Pretoria. Ons praat nou met 'n politieke ontleder van die Noordwes Universiteit se Sakeskool, Professor Andre Duvenhage..
Geen gevaar vir die publiek ná radioaktiewe besmetting by Koeberg
Die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het Suid-Afrikaners gerus gestel dat drie afsonderlike voorvalle van radioaktiewe besmetting by die Koeberg-kernkragsentrale, nie 'n gevaar vir die publiek inhou nie. Volgens Ramokgopa was die voorvalle beperk tot Eenheid 2, waar instandhoudingswerk plaasgevind het. Die voorsitter van die Eskom-raad, Mteto Nyati, sê Koeberg se Eenheid 2 sal eers weer in werking gestel word, nadat alle veiligheidsvereistes nagekom is. Die energiekenner Corneels Schabbort het op Monitor ook die versekering gegee dat die publiek nie in gevaar is nie, en verduidelik presies hoe dinge skeef geloop het…..
Staak AARTO onmiddelik sê OUTA.
Die organisasie teen belastingmisbruik, OUTA , het die hof op 'n dringende basis genader met 'n aansoek om die tweede fase van die implementering van die Aarto-stelsel, stop te sit. Die Administratiewe beregting van Padverkeersoortredings het op 1 Julie na 60 munisipaliteite uitgebrei. Maar OUTA sê die implementering van dié wetgewing en sy stelsels is voortydig, omdat die regering nog nie die maatreëls wat padverbruikers wettiglik beskerm, in plek het nie. Advokaat Stefanie Fick is OUTA se hoof van verantwoordbaarheid en het op Monitor uitgebrei oor die hofgeding.
Die Good Party voel burgemeester is sleg vir Nelson Mandela Baai-metro
'n Derde mosie van wantroue is teen die burgemeester van die Nelson Mandelabaai Metro in die Oos-Kaap, Babalwa Lobishe ingedien. Dié mosie is deur die GOOD-party ter tafel gelê, omdat Lobishe glo NIE beslissende leierskap bied, te midde 'n groot diensleweringskrisis nie. Die Tesourie het ook besluit om die Metro se billike aandeel-toelae vir Julie terug te hou. Raadslid Lawrence Troon van die GOOD-party wat die mosie dryf, het op Monitor daaroor gepraat.
Die skrap van KI-kontrole beteken nie 'n "Free For All" vir studente nie, se KOVSIES
Die Universiteit van die Vrystaat het pas die gebruik van sy Kunsmatige Intellegensie-opsporing-sagteware gestaak weens kommer oor akkuraatheid. Die universiteit beweer dat die KI-opsporing nie betroubaar genoeg is om tussen mens en KI-geskrewe werk te onderskei nie. Die universiteit se hy sal voortaan eerder steun op akademiese oordeel, deeglike assessering en die verantwoordelike gebruik van KI. Prof Francois Strydom, senior direkteur by die Sentrum vir Onderrig en Leer aan die Universiteit van die Vrystaat het op Monitor hieroor gepraat.
Hoekom die gevaarligte weer flikker rondom die petrolprys en ons ekonomie, danksy die Midde-Ooste
Die Wêreld Bank het reeds aan die begin van Julie sy internasionale groei-vooruitsig afwaarts gewysig na 2-komma-5 persent vir 2026. Dit is die swakste vertoning sedert die Covid-pandemie, en het op 'n tydstip gekom toe daar nog sprake was van 'n permanente skietstaking tussen die VSA en Iran. Die twee is tans nog gewikkel in wedersydse aanvalle op mekaar, en in die streek. Dit terwyl Donald Trump, op 'n byna daaglikse basis, sy benadering tot die konflik verander. Wat beteken die onsekerheid vir wereld ekonomiese groei vir die res van die jaar en watter impak sal dit oor die korttermyn hier in Suid-Afrika he? Dawie Roodt is die hoof ekonoom by die Efficient-Groep en het aan Monitor verduidelik waarop hy fokus as aanduiding vir wanneer dinge spoedig kan vererger.
Daar is niks ongehoords daaraan dat honderde Afrikaner-“vlugtelinge” deur die VSA afgekeer is nie
Honderde mense wat 'n nuwe lewe in Amerika onder die VSA se Afrikaner Vlugteling Program wou begin, se aansoeke is na maande afgekeur. Hulle is glo op 30 Junie daarvan in kennis gestel. Die aansoekers is om uiteenlopende redes afgekeur. Ons het by Solidariteit se hoof van Openbare Skakeling, Jaco Kleynhans gaan kers opsteek oor die redes wat verskaf is en of daar enige ondersteuning gebied sal word aan die wat reeds hulle werk opgegee het, of bates verkoop het, met die vooruitsig van ‘n nuwe lewe in Amerika.
Bek-en-Klouseer skikking: Alles wat jy moet weet
Die nuwe minister van landbou, Willie Aucamp, het binne 'n week na hy die leisels oorgeneem het, 'n skikkingsooreenkoms bereik met organisasies wat die departement hof toe gesleep het oor die regering se bek-en-klouseer-inentingsprogram. Ons het op Monitor met net mooi elke rolspeler gepraat, insluitend die minister self.
Werkgewers kan tronk toe vir versuim om pensioengeld oor te betaal
Die Finansiële Sektor Oortredingsowerheid beplan om werkgewers, wat versuim om werknemers se pensioenfondse oor te betaal, behoorlik vas te vat. Op die owerheid se jongste lys van oortreders is daar 16-duisend maatskappye wat versuim het om die betalings te maak, met meer as 8-komma-3 miljard rand wat aan pensioenfondse in Suid-Afrika geskuld word. Marius Croucamp, die adjunk-hoofsekretaris by Solidariteit, het op Monitor hieroor gepraat.
Die regering en March and March begin mekaar vind
Ons het op Monitor met die minister van binnelandse sake, Dr Leon Schreiber gepraat sodat hy kon verduidelik watter hevormings tans in die uitvoer van die immigrasie-beleid gebeur weens die maande-lange protes-optogte teen onwettige immigrasie. Die leier van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma het ook aan ons verduidelik hoe die huidige veranderinge strook met hulle eise en hoekom hulle dit nodig ag om aan te hou met weeklikse optogte.
Kan jy bekostig om drie jaar te wag vir werkloosheidsversekering?
Business Unity South Africa, oftewel BUSA , blyk op die oorlogspad te wees met die Werkloosheidsversekerings Fonds. BUSA, wat in 'n raadgewende posisie tussen die sakewêreld en die regering sit, het sy plek prysgegee op die Raad van die Fonds. Die instelling se versuim om na ses jaar 'n situasie van swak bestuur om te keer, lê agter die besluit. BUSA se hoof van Maatskaplike en Arbeids-beleid, Saneliswe Jantjies het aan Monitor verduidelik wat die gevolge vir werklose Suid Afrikaners is van swak bestuur by die instelling.
Gaan tesourie se plan werk om munisipaliteite reg te ruk?
Die Nasionale Tesourie sê munisipaliteite kan weer toegang kry tot hulle billike toekennings-betalings mits hulle met 'n behoorlike begrotingsplan vorendag kom. Die Tesourie het daad by die woord gevoeg deur billike toekennings-betalings aan minstens 60 munisipaliteite vir Julie, te weerhou. Volgens die Tesourie doen hy dit om fiskale dissipline in munisipaliteite af te dwing en ongemagtigde onreëlmatige en vrugtelose uitgawes te bekamp. Ogalaletseng Gaarekwe die adjunk direkteur van die Inter Regerings verhoudings departement van die Tesourie sê dat munisipaliteite 'n behoorlike begrotingsplan moet voorle om hulle fondse te kry
Die weermag het tot vandag tyd om te veruidelik hoekom soldate in 'Ebola Kwarantyn' geplaas is.
Sowat 350 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat diens gedoen het in die Demokratiese Republiek die Kongo, en in kwarantyn is by die De Brug-basis buite Bloemfontein, bly glo in haglike omstandighede. Hulle slaap in verflenterde tente, daar is nie genoeg toilette nie en hulle kry nie genoeg kos om te eet nie. Die nasionale sekretaris van die weermagvakbond, SANWU, Pikkie Greeff sê hulle het die leierskap van die weermag tot vandag tyd gegee om te verhoed dat die kwessie in die hof draai.
Save video to ...