listen to RSG Nuus en Aktualiteit
DA hof toe oor PR lyste en VF+ bo aan kieslyste
Action SA sê die DA is besig om Suid-Afrikaners se demokratiese reg om te kan stem van hulle te ontneem deur hulle jongste hofoptrede. Dit volg nadat die DA die kieshof genader het, om die proporsionele lyste van die Good party, Action SA , die MK-party en die EFF, onwettig te laat verklaar. Die DA wil ook hê dat die lyste tersyde gestel word. Die partye het slegs een kandidaat op die lyste vir verskeie munisipaliteite geplaas. Die DA voer verder aan dat kiesers van deurslaggewende inligting ontneem word deur net een kandidaat op die PR lys te plaas. Ons praat nou met 'n politieke ontleder van Unisa, Professor Dirk Kotze...
Vriend van Lt. generaal Sibiya verdedig hom
Die staat voer aan dat daar beslaggelê moet word op al Luitenant-genraal Shadrack Sibiya se elektroniese toestelle om intimidasie te verhoed. Die toestelle is ook nodig in die ondersoek na klagtes van moontlike intimidasie wat deur die klaers in die saak gemaak is. Dit was die staat se verweer in die Randburgse Landdroshof waar Sibiya gister verskyn het op klagtes van mensehandel, verkragting, die bevordering van die seksuele voorbereiding van 'n minderjarige en twee aanklagtes van seksuele voorbereiding van 'n minderjarige. Intussen het 'n goeie vriend van Sibiya, Biskop Lauzerus Maumela gesê hierdie is alles deel van 'n komplot om te verseker dat Sibiya nie die nasionale polisiekommissaris word nie. Maumela het vroeer met ons suster stasie SAFM gepraat. Maumela sê hy het Sibiya tydens sy arrestasie gekonfronteer oor die aanklagtes teen hom. Hier is die volle onderhoud...
VSA wil nie sê wie is op die lys van visumbeperkings nie.
Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê die name van Suid-Afrikaners wat deur visumregulasies geraak word, sal nie bekend gemaak word nie. Die VSA beplan om visumbeperkings in te stel teen staatsdienswerkers wat by die opstelling van wetgewing oor grondonteiening betrokke is, asook diegene wat, volgens die regering, voortdurend die "Kill the boer, Kill the farmer"-liedjie bevorder. Lizaan Groenewald doen verslag.
Gauteng se meer gegoede skole sukkel
Meer gegoede skole in Gauteng moet vanjaar met minder klaar kom, omdat die provinsiale departement miljoene rand meer sny aan befondsing vir Kwintiel 5 skole. Die skole wat die geld aan onder meer ekstra onderwysers bestee, gaan sukkel om dit voortaan te doen. Die bestuurshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole of FEDSAS, Dr. Jaco Deacon, sê Gauteng betaal nou die bedrag soos voorgeskryf deur die Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing. Skole is egter die afgelope paar jaar meer betaal en het sodanig begroot.
Die president wil een miljard bome laat plant...
Suid-Afrika beoog om een miljard bome landwyd oor die volgende vyf jaar te plant. Dit sal onder meer help om klimaatsverandering te bekamp, luggehalte te verbeter en groener en gesonder gemeenskappe te skep. Die Adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, lei die implementering van dié presidensiële program, wat op Erfenisdag in Pretoria bekendgestel sal word. Ons praat nou hieroor met haar.
Jongste oor mense wat inhegtenis geneem is vir die moord op een van die Kemptonpark moord slagoffers
Twee vroue en 'n man maak hul eerste verskyning in die Boksburgse Landdroshof in verband met die moord op 'n vrou, wat as die negende slagoffer in die Ekurhuleni-moorde beskryf word. Die liggaam van Jabulile Ntimba is verlede Donderdag deur 'n verbyganger langs 'n pad in Dawn Park aan die Oosrand gevind, te midde van toenemende kommer oor geslagsgeweld en vrouemoord in Suid-Afrika. Die drie verdagtes is die naweek in hegtenis geneem. Ons praat nou hieroor met SAUK-verslaggewer, Refilwe Mekoa.
Is daar n skakel tussen die versuim om in te ent en die verskyning van siektes soos masels
Wat begin het as ‘n gesprek oor die jongste uitbreking van A-pokke in Suid Afrika, het ontaard in ’n bespreking oor die vrees van ouers om hulle kinders deesdae in te ent. Die Nasionale Departement van Gesondheid waarsku oor 'n toename in gevalle van A-pokke. Minstens 18 gevalle is bevestig waarvan ten minste 14 hiervan in die Wes-Kaap, drie in Gauteng en een in KwaZulu-Natal is. Professor Hannelie Meyer het daaroor uitgebrei en ook ouers wat versuim om hul kinders te laat inent gemaan om twee keer te dink aan die risiko’s wat daaraan gekoppel is.
Drie vas in moord op negende slagoffer in Dawn Park, Gauteng
Die polisie se nasionale woordvoerder, Brigadier Athlenda Mathe het in 'n verklaring bevestig dat die polisie 'n deurbraak gemaak het in die moord-ondersoek van die negende slagoffer wat Donderdagoggend in Boksburg gevind is. Drie verdagtes - een man en twee vroue - is die naweek deur die Gautengse Moord- en Roof Eenheid ondervra en in hegtenis geneem. Dié drie verdagtes sal na verwagting vandag in die Boksburg Landdroshof verskyn. Dit is nog nie bekend of hulle by die agt ander moorde betrek word nie. Intussen het ons op Monitor gekyk na die regering se reaksie op die moorde en die polisiekenner en voormalige Kommisaris van die Wes-Kaap Dr. Lennit Max het ook ‘n ou tameletjie aangespreek: Kan die terugkeur van die doodstraf 'n verskil maak in ons moordsyfer?
Hoe bepaal misdaadprofielsamestellers of 'n reeksmoordenaar aan die werk is?
Suid-Afrika is dié week stomgeslaan toe nog vier liggame van vroue wat vermoor is, in die Ekurhuleni-gebied aan die Oos-Rand gevind is. Sedert 15 Julie, is die liggame van nege vroue in dié gebied gevind. Die polisie het 'n veel-dissiplinêre span onder leiding van die Gautengse adjunk provinsiale kommissaris, Generaal-Majoor Mbuso Khumalo, saamgestel. Vier van die nege vroue - waarvan die meeste half-naak gevind is - is reeds uitgeken. Hulle is: Itumeleng Kekana, Gracious Nkomo, Elizabeth 'Tsontso' Moselakgomo en Dineo Evelyn Motapane. In Naweek Aktueel praat Esté de Klerk met 'n wêreldbekende Suid-Afrikaanse forensiese sielkundige en misdaad-profielsamesteller, dr Micki Pistorius - wat 32 jaar gelede die polisie se ondersoek-gerigte sielkunde eenheid gestig en van die land se berugste reeksmoordenaars help aankeer het.
So kan en moet vroue hulleself beveilig - misdaadkenner
Talle vroue, veral in die Ekurhuleni-gebied sê hulle is vreesbevange nadat die liggame van nege vroue oor die afgelope twee maande in die gebied gevind is. In Naweek Aktueel, vra Esté de Klerk aan die misdaadkenner en onafhanklike ondersoeker, Mike Bolhuis hoe vroue hulleself kan, en moet, beveilig.
NAWEEK AKTUEEL 19 September 2026
Suid-Afrika was die week stomgeslaan toe nog vier liggame van vroue wat vermoor is, in die Ekurhuleni-gebied gevind is. In Naweek Aktueel praat Esté de Klerk met kenners oor hoe vroue hulleself moet en kan beveilig, die wêreldbekende Suid-Afrikaanse forensiese sielkundige en misdaad-profielsamesteller, dr. Micki Pistorius, deel haar mening oor dié saak, en die Sprinbok-kaptein, Siya Kolisi het 'n sterk boodskap teen geslagsgebaseerde geweld.
Die dieper redes vir die VSA se “rasse-oorlog” met Suid Afrika
Die organisasie "Afrikaners vir Suid Afrika" beskryf Amerika se jongste visum-beperkings as 'n "onnodig strydlustige waarskuwing" en dreigemente van verdere sanksies deur die Amerikaanse ambassadeur Leo Bozell as 'n poging om Suid Afrika se wette, hofbeslissings en buitelandse beleid te verander. Die VSA se Buitelandse Minister, Marco Rubio het vandeesweek nuwe visum beperkings aangekondig teen enige indiwidue wat skuldig is aan diskriminasie teen Suid Afrika se wit bevolking. Anthonie Van Nieuwkerk is 'n professor in Internasionale Betrekkinge en Diplomasie aan Unisa. Hy is ook 'n ondertekenaar van die brief: "Nie in ons naam nie", wat gelei het tot die ontstaan van die organisasie, Afrikaners vir Suid Afrika. Ons het breedvoerig met hom gepraat oor die impak van die visumbeperkings, maar ook oor die redes hoekom Suid Afrika voortdurend deur Amerika geteiken word.
Die wereld se "KI-slimkoppe" is self bang vir dit wat hulle geskep het
Ons het in 'n breedvoerige gesprek op Monitor met 'n entrepreneur gepraat oor hoe KI in ons plaaslike sakewereld aangewend word en ook by ‘n akademikus gehoor hoekom ons bang moet wees oor die bedrywighede van KI-agente en die verwoesting wat dit kan saai in digitale stelsels waarop die hele moderne wereld staatmaak. Die gesprek volg kort op die hakke van n vergadering, die afgelope naweek, waar die onderskeie skeppers van die wereld se KI-stelsels self pleit vir dringende veiligheidsmaatreels.
FOPNUUS: "Kempton Park reeksmoordenaar steek hom in Potchefstroom weg”
Die polisie in Noordwes vra dat inwoners verantwoordelik moet wees wanneer hulle inligting op sosiale media deel. Dit volg nadat 'n boodskap versprei is waarin beweer word dat 'n sogenaamde 'Kemptonpark-reeksmoordenaar' na Potchefstroom verhuis het, en dat 'n grootskaalse polisie-operasie in die dorp begin is. Ons het by Noordwes se polisiewoordvoerder, Kolonel Adele Myburgh uitgevind hoe hulle daarvan te hore gekom het. Wees gewwarsku, as jy deel is van die verspreiding van die storie, het die polisie nie klagtes teen jou uitgesluit nie.
Hoe moet die polisie te werk gaan met sy ondersoek na Kemptonpark-moorde?
Ons het op Monitor gaan kers opsteek by 'n dosent in polisiepraktyk, Cobus Steenkamp om te hoor hoe die polisie te werke moet gaan met hulle ondersoek na agt moorde op vroue aan Gauteng se Oosrand. Die polisie het 'n belonging van 400-duisend rand uitgeloof vir geloofwaardige inligting, wat kan lei tot inhegtenisnemings in verband met die moorde. Die waarnemende minister van Polisie, Feroz Cachalia, en die waarnemende polisiekommissaris, Puleng Dimpane is gister op hoogte gebring van die ondersoek in 'n reeks moorde op vroue oor die afgelope twee maande. Die vroue se liggame is in gebiede soos Kemptonpark, Olifantsfontein, Clayville en Springs gevind. Sover het die polisie nog net vure doodgeslaan oor die moontlikheid van ‘n reeksmoordeneaar, maar soos Steenkamp verduidelik het die oorhoofse ondersoek baie spesifieke kundighdeid en koordinering nodig.
SANDF Pensioenarisse se medies uitgeput....
Die werkskomitee van die Staande Mag Mediese Voortsettings Fonds (SMMVF) wat weermag pensioenarisse verteenwoordig, is op die punt om die Departement van Verdediging en militere veterane hof toe te sleep weens die wanbetaling van mediese voordele. Volgens die SMMVF lede is daar 'n besluit geneem om die betaling van alle mediese eise en gesondheidsorgbehandeling vanaf die 1 November 2026 te staak. Onafhanklike aktuariële evaluerings deur die SMMVF lede het bevestig dat die fonds nie meer as 'n lopende onderneming kan voortbestaan nie. Die SMMVF sê hy het lankal reeds gewaarsku daaroor maar is geignoreer en is daar toegelaat dat die militere mediese fonds in eenstort. Ons praat die koordineerder van die Werkskomitee , Oud Adj Hoof van die Leër en ook BG Spesmagte Generaal Majoor Les Rudman
Die polisie moes beter kommunikeer oor Kemptonpark-moorde
So sê professor Corne Davis-Buitendach oor die SAPS se hantering van kommunikasie rondom die liggamme van vyf vroue wat die afgelope twee maande aan Gauteng se Oosrand gevind is. Die liggaam van die vierde vrou, wat Saterdag in Rhodesfield in Kemptonpark gevind is, is as die van die 38-jarige Elizabeth Mokolo Moselakgomo geidentifiseer. Sy is verlede Donderdag laas gesien toe sy gaan draf het. Intussen is die liggaam van 'n vyfde vrou langs die pad in Olifantsfontein gevind. Die Polisie wil in die stadium nie bevestig of dit die werk van 'n reeksmoordenaar is nie. Ons het op Monitor met professor Davis-Buitendach van die Departement Strategiese Kommunikasie aan die Universiteit Johannesburg gepraat, wat haar ook beywer vir vroue-en kinderregte.
Nog 'n liggaam gevind in Kemptonpark ...
'n Vyfde liggaam is in Olifantsfontein in Ekurhuleni gevind. Die jongste vonds volg op die ontdekking van nog 'n vrou se liggaam Saterdag in Kempton Park aan die Oos-Rand. Drie ander liggame van vroue is die afgelope twee maande naby die R21-pad in Ekurhuleni gevind. Die polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe sê dit is nog nie seker of 'n reeksmoordenaar hier betrokke is nie
Die gevry na die "bruin" stem begin in die Wes-kaap.
Met elke verkiesing is dit asof verskillende politieke partye in die Wes-Kaap skielik gekonfronteer word met die "bruin" kieser, en kopkrap oor hoe om na dié gesogte stem te vry. Kaapse Forum het verlede week sy GROOT DIALOOG by die Universiteit Stellenbosch gehou, waar tien politieke partye aan 'n paneelbespreking deelgeneem het. Ons het met die uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, Heindrich Wyngaard hieroor op Monitor gepraat.
VF+ stel sy regrukplan vir munisipaliteite bekend met verkiesingsmanifes
Die Vryheidsfront Plus sê gemeenskappe moet groter beheer en insae hê oor die belastings en tariewe wat munisipaliteite vasstel, en basiese dienste wat deur dié owerheid lewer word. Die party wat pas sy verkiesingsmanifes in Pretoria bekendgestel het, sê die tyd is NOU om dorpe en stede reg te ruk. Die party belowe om eenvormige munisipale tariewe en slim krag-en watermeters in te stel, indien hy aan bewind in 'n munisipaliteit sou kom. In Naweek Aktueel praat Esté de Klerk met die leier van die Vryheidsfront Plus, dr Corné Mulder, en met 'n politieke ontleder, professor Duvenhage.
Save video to ...