listen to Die Reine Wynheid
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Doolhof
S2E3: Hulle is onder meer bekend vir hulle Malbec wat al met die wêreld se bestes in die top 10 aan tafel gesit het. Aan die voet van die Limietberg en Groenberg verwelkom ons die talent en roeping van wynmaker, Rüdger van Wyk, en die passie van Mercia Plaatjies wat gebore en getoeë is op die boetiekwynplaas, Doolhof op Wellington.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Vind die fout én kwaliteit in jou glas
S2E2: Hoe smaak 'n gekurkte wyn? Wat is die algemeenste fout wat tegniese wynkonsultante in die bedryf sien? Hoe presenteer 'n kwaliteitwyn in die laboratorium? Kom vind die fout én die kwaliteit in wyn saam met Martelize Brink en haar gaste Loftie Ellis en dr. Carien Coetzee. Hulle proe ook sogenaamde foutwyne. Martelize loer ook in by Van Loveren om uit te vind hoe groot die skade is ná die onlangse vloede. Sanger Willem Botha vertel wat sy gunstelingwyn is.
RSG Bekbasaar: S2E1: Die Reine Wynheid - Perdeberg, van koöp tot handelsmerk
Die Huis van Chenin Blanc open die tweede seisoen van Die Reine Wynheid. Gerhard van der Watt, Niel Groenewald en wingerdboukundige Johann Smit van Perdeberg gesels met Martelize Brink oor hoekom Chenin Blanc in die area floreer, die rol van droogland en hoe hulle sedert 1941 'n koöperasie omskep het in 'n kompeterende, kwaliteithandelsmerk. Armand Aucamp van Noordwyk vertel meer van sy gunsteling wyn.
RSG Bekbasaar: EPISODE 20: Die Reine Wynheid - Wat by Elsenburg gebeur...
In die laaste episode van die eerste seisoen kuier Abie Rossouw, Koos Jordaan en Eugene van Zyl in die ateljee. Hulle gesels oor wingerd- en wynbou-opleiding by die ikoniese landbou opleidingsinstelling, Elsenburg. ‘n Paar alumni vertel ook hulle gunsteling stories van hulle tyd by Elsenburg.
RSG Bekbasaar: EPISODE 19: Die Reine Wynheid – ‘n Koel klimaat
‘n Koel klimaat is ideaal vir Pinot Noir en Chardonnay. Ons verken die pionierswerk deur vierde generasie Paul Clüver en sy familie in Elgin, en dapper besluite deur Hannes Storm van Storm Wyne in die Hemel-en-Aarde vallei.
RSG Bekbasaar: EPISODE 18: Die Reine Wynheid – Die toekoms van Ken Forrester-wyne
Mnr. Chenin, Ken Forrester, en die wynmaker van die handelsmerk wat hy persoonlik gekies het, Shawn Mathyse, is Martelize Brin k se gaste. Ken verduidelik hoekom hy Chenin Blanc gekies het, die groot waagstuk op ‘n plaas wat hulle nie kon bekostig nie, en wat hy in Shawn gesien het om eendag by hom oor te neem. Ons proe die ikoniese FMC Chenin Blanc, en Shawn se Grenache-hartsprojek.
RSG Bekbasaar: EPISODE 17: Die Reine Wynheid – 55 Jaar op die Stellenbosch Wynroete
Reis saam op die Stellenbosch Wynroete wat hulle 55ste bestaansjaar vier, met Frank K. Smit van Spier, Johan Malan van Simonsig en Victor Sperling van Delheim. Hulle voorgangers en ouers het die roete gestig. Die bestuurder van die roete, Elmarie Rabe, vertel van die 200 plase wat deel vorm van een van die gewildste toeristebestemmings in Suid-Afrika.
RSG Bekbasaar: EPISODE 16: Die Reine Wynheid – La Motte
Die keldermeester, die eerste broodsommelier in Suid-Afrika, die sjef, die storieverteller en die bemarker trek van Franschhoek na die Bekbasaar-ateljee, en bring die oes van La Motte saam. Martelize Brink praat met hulle oor die plaas se geskiedenis, die onlangse brande, pryswennende Semillon en die verskillende aspekte wat dié bestemmingsplaas aan besoekers bied.
RSG Bekbasaar: EPISODE 15: Die Reine Wynheid – Wat soek die mark?
Wat koop die verskillende generasies in Suid-Afrika, en watter wynkultivars moet in die toekoms geplant word vir volhoubaarheid? Rene Groenewald, Kaapse Wynmeester en produkspesialis by W Cellar, en Jacques Steyn van Jordan drink wynkultivars van Griekeland en ’n agaveproduk, wat met verskillende soort kaas geproe word.
RSG Bekbasaar: EPISODE 14: Die Reine Wynheid – Die baanbrekers
Die een het ‘n professionele tennisloopbaan in Amerika gaan volg, terwyl die ander twee reeds van kindsbeen af geweet het wynmaak is hulle roeping. Drie van Suid-Afrika se beste wynmakers en baanbrekers vir vroue in die bedryf gesels oor die huidige oes en hulle bekroonde loopbane. Rianie Strydom van Cavalli en Strydom Familie-wyne, Elunda Basson van Steenbergwyne en Izele van Blerk van KWV besoek Die Reine Wynheid.
RSG Bekbasaar: EPISODE 13: Die Reine Wynheid - SA se superproewers
Welkom by Wynproe 101 met twee van Suid-Afrika se superproewers, dr. Winifred Bowman en Conrad Louw. Hoe proe jy wyn? Hoe bly professionele wynbeoordelaars objektief? Hoeveel duisend wyne proe hulle per jaar? Ons vind uit watter wonderwêreld op hierdie proewers wag. Dit sluit selfs 'n vertikale 50 jaar wynproe in die Pous se woonstel in!
RSG Bekbasaar: EPISODE 12: Die Reine Wynheid - Sauvignon Blanc ontmasker
Goedkoop, homogeen en moet altyd “vars” gedrink word. Ons keer die wanopvattings van Sauvignon Blanc op sy kop saam met David Nieuwoudt van Cederberg Wyne en Ghost Corner, Karlin Nel van Vrede en Lust, en Lukas Wentzel van Groote Post Vineyards, almal deel van Sauvignon Blanc SA.
RSG Bekbasaar: EPISODE 11: Die Reine Wynheid - Ikoon, Kanonkop
Kanonkop is reeds drie keer aangewys as die wêreld se mees bewonderde wynhandelsmerk. Die mede-Eienaar en bestuurshoof, Johann Krige, en die nuwe bedryfshoof, Louw Strydom, gesels met Martelize Brink oor die wynfokus op die plaas, drie wynmakers wat elk in die verlede aangewys is as internasionale wynmaker van die jaar (Abrie Beeslaar meer as eenkeer) en dat hulle dié ikoon toeganklik wil maak vir alle wyndrinkers.
RSG Bekbasaar: EPISODE 10: Die Reine Wynheid - Die Malmesbury Rewolusie
Ons reis na die Swartland, en verken die Malmesbury rewolusie van wyn met Eben Sadie, Chris Mullineux en Callie Louw. Hulle staan bekend as die “mavericks” van Malmesbury met die top wyne wat in die streek vervaardig word.
RSG Bekbasaar: EPISODE 9: Die Reine Wynheid - Pionier en legende Danie De Wet
De Wetshof is die eerste geregistreerde wynlandgoed in die Robertson-wynvallei. Legende en pionier Danie de Wet van De Wetsof, en Emile Joubert praat oor die ontwikkeling en invoer van kwaliteit plantmateriaal vir die verskillende wynkultivars in Suid-Afrika, en vestiging van De Wetshof as die huis van Chardonnay. Chardonnay word wyd beskou as die wêreld se mees aangeplante en gewilde witwyndruif.
RSG Bekbasaar: EPISODE 7: Die Reine Wynheid en SA se ikoniese ou wingerd
Wat is die oudste wingerd in Suid-Afrika? Rosa Kruger en Nadia Hefer van die Old Vine Project, en Kayleigh Hattingh, wynmaker van Kaapzicht, vertel van die diep gewortelde erfenis van ons ou wingerd, en dat dit waarlik die smaak en kwaliteit van die wyn beïnvloed. Hulle vertel ook van navorsing en internasionale toekennings wat onlangs aan die projek oorhandig is.
RSG Bekbasaar: EPISODE 6: Die Reine Wynheid onthaal soos ‘n sommelier
Jy sal nie glo watter wyn hy in die ateljee oopmaak nie. Dit is só oud, ons mag dit nie meer in Suid-Afrika op sy naam van herkoms noem nie, en word nie meer geproduseer nie. Sommelier Wikus Human, wyndirekteur vir die Marble Hospitality Group, vertel vir Martelize Brink dat hy niks van wyn geweet het nie, Hy het homself opgelei tot 'n WSET vlak 3 kwalifikasie. Hy bring drie geregte met die gepaste wyn, en gee wenke oor hoe jy jou gaste by die huis kan onthaal.
RSG Bekbasaar: EPISODE 5: Die Reine Wynheid se Cap Classique met Bubbles Ferreira
Daar word binnekort regoor die wêreld die proppe van vonkelwynbottels afgeskiet om die Nuwejaar te verwelkom. Pieter "Bubbles" Ferreira kuier in die ateljee. Ons vind uit hoe die benaming, Cap Classique, gekies is, eksperimenteer met vier soorte vonkelwynglase, en ons klink 'n glasie op die 36ste en laaste oesjaar van Bubbles by Graham Beck. Wat lê volgende vir hom voor? Ons hoor ook waar die tradisie van "gesondheid" vandaan kom, en wat Martelize se wyn van die week is.
RSG Bekbasaar: EPISODE 4: Die Reine Wynheid se Corlea en Bertus Fourie
Slegs een oes saam, en die skoot was hoog deur. Dis die storie van die wynmakerpaartjie, Corlea en Bertus Fourie. Sy is die wynmaker vir Bosman Adama, en hy die pa van koffie Pinotage en bekend vir sy deelname aan Kokkedoor Vuur en Vlam. Ons proe Bosman Adama se wyne en gee idees vir jou feestydonthaal. En ja, hulle braai regtig elke aand.
RSG Bekbasaar: EPISODE 3: Die Reine Wynheid se droom van 'n wynplaas in Franschhoek
Hy het op ‘n wynplaas in die Boland groot geword, waar sy ma werksaam was. Die droom as jong seun om eendag ‘n wynplaas te besit, het sy lewenspad gedefinieer. Klein Goederust het wagtend uit Franschhoek geroep, en die droom is uiteindelik bewaarheid. Paul Siguqa se verhaal inspireer as entrepreneur, wynliefhebber en liefdevolle seun, wat een van sy topverkoper wyne na sy ma vernoem het.
Save video to ...