listen to Land en Sand

Land en Sand
Land en Sand

Land en Sand

News

Elke week gesels Pieter Steyn land en sand met planmakers, bekendes en berugtes. Dis 'n in-diepte, maar informele gesprek sonder enige heilige koeie of taboes.

Land en sand: Amore Bekker

Sy het vir 33 jaar lank uitgesaai - die laaste 20 jaar op RSG, waar sy besonders gewild was onder die luisteraars. Die afgelope drie jaar is Amore Bekker steeds besig met haar reis na binne. Amore het land en sand in haar huis in Johannesburg met Pieter Steyn gesels oor kruispaaie, verganklikheid en verlies, hoe sy skaapmis van vagte wol in Nieu-Seeland moes aftrek, haar "Griekse tragedie" en hoekom die binneland van haar menswees, voortdurend ondersoek en ontdek moet word.

01:20:27

Land en sand: Anneliese Burgess

Elke Sondag lees duisende mense Anneliese Burgess se roerende, rou, eerlike en interessante nuusbriewe, wat sy as redakteur van die aanlynpublikasie, BinneLand, skryf. Sy is 'n veteraanjoernalis wat in 'n stadium ook by RSG gewerk het. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor haar jongste boek oor Roelf Meyer, haar herinneringe van die onteiening van haar ouers se plaas, toe sy die familiewoordvoerder was tydens die Oscar Pistorius-verhoor, en die voortslepende Afrikanerdebat.

01:29:07

Land en sand: Frederik van Dyk

Daar is min mense jonger as 30, wat briefskrywers, meningsvormers en Jan en San Publiek so die harnas kan injaag as die Johannesburgse prokureur en kommentator, Frederik van Dyk. Sy jongste artikel 'n week of wat terug in Rapport, het weer talle mense die pen laat opneem. Hy is ook die medestigter van die aanlynpublikasie, Ontlaer, waar 'n verskeidenheid menings oor 'n wye spektrum, gepubliseer word. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor links, regs, konserwatief, progressief, slagofferskap en kulturele identiteit.

01:22:45

Land en sand: Willie Aucamp

Hy het in 'n Dopper-pastorie groot geword, en sy gunsteling Psalm is Psalm 100 - Juig al wat leef. Maar moenie dat dit die indruk skep dat hy nonsens van enigiemand vat nie. Willie Aucamp is nou byna 'n maand lank Minister van Landbou. Hy het in sy kantoor in Pretoria, land en sand met Pieter Steyn gesels oor die skikking in die hofsaak teen sy departement, moeilike personeellede, of dit waar is dat jy jare terug op pad ANC toe was, en waar die beleid oor leeuboere staan toe hy sy vorige ministerspos ontruim het.

48:53

Land en sand: Jan-Jan Joubert

Hy's 'n greelde stem op 'n verskeidenheid RSG-programme. Jan-Jan Joubert is 'n joernalis, skrywer, politieke ontleder en historikus wat geen bekendstelling nodig het nie. Wanneer Jan-Jan op RSG gesels, stroom die SMS'e in. Jan-Jan is deesdae besig met sy doktorsgraad in geskiedenis in Nederland, en het onlangs tydens 'n besoek aan Suid-Afrika, land en sand met Pieter Steyn gesels. Hy vertel van sy gestremdheid weens erge komplikasies met sy geboorte, wat hy van die John Steenhuisen/Tony Leon-debakel dink, waarom sy doktorsgraad oor Afrikaners is, en toe hy ’n fout gemaak het toe hy vlagman was tydens 'n rugbywedstryd.

01:09:04

Land en sand: Reandi Grey

As kind het sy haar ouers grys hare gegee, en tog was sy tegelykertyd só skaam dat sy dramalesse moes neem om uit haar dop te kruip. Deesdae speel sy Kupido as aanbieder van die Boer soek ’n vrou-televisiereeks. Die ironie van die saak is dat Reandi Grey self nie lank genoeg kan stilsit om na ’n TV-program te kyk nie. Sy het land en sand met Pieter Steyn gepraat oor alles van haar eerste TV-rol tot haar man en twee dogtertjies.

01:10:30

Land en sand: Daniel Lötter

Resensente beskryf hom as een van die beste storievertellers in Afrikaans. En as jy die afgelope jaar of drie Op en Wakker geluister het, kon jy sy stories oor koninklikes, rare karakters, gedaantes en gedoentes en dwarstrekkers hoor. Daniël Lötter se boeke word opgeraap, en sy nuwe boek, DOUWENIS, word eersdaags bekendgestel. Daniël het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy grootwordjare in die Karoo, hoe hy byna kansel toe is, sy boeke, sy kortstondige loopbaan in die polisie en politiek, en sy uitsaailoopbaan hier en in Europa.

53:28

Land en sand: Cobus Bester

Hy was jare lank die vertroude stem wat vroegoggend nuus en aktualiteit vir RSG luisteraars gebring het. Cobus Bester het vir meer as 37 jaar by die SAUK gewerk, en was jare lank die aanbieder van Monitor. Sy loopbaan by die SAUK het by televisie begin, voor hy uiteindelik die sakeredakteur geword het, en toe die aanbieder van Monitor. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels.

01:29:11

Land en sand: Max du Preez

Hy het nog nooit as Afrikaner bedank nie, en sê daar is geen sin daarin dat hy sy Afrikanerskap ontken nie. Maar dit beteken nie dis sy enigste identiteit nie. Max du Preez is ’n dwarstrekker, en is al langer as 50 jaar 'n joernalis in Suid-Afrika. Sy jongste boek, Aanstap Boere, het pas verskyn. In hierdie 100ste Land en Sand-onderhoud, het Max vir Pieter Steyn vertel van die trauma om sy ma op vierjarige ouderdom te verloor, hoe die Soweto-opstande van 50 jaar gelede 'n keerpunt vir hóm en Suid-Afrika was, of Steve Biko en Flip Buys iets gemeen het, en hoekom hy in Ierland letterlik met sy broek op sy knieë moes vlug.

59:45

Land en sand: N.P. van Wyk Louw

Uit die argief: Hy word tot vandag toe beskou as een van Suid-Afrika se grootste digters en denkers. N.P. van Wyk Louw sou vandeesmaand 'n 120 jaar oud geword het. In 1966, toe Van Wyk Louw 60 jaar oud was, het 'n voormalige bestuurder van die Afrikaanse Diens van die SAUK en later regter, Kowie Marais, met Van Wyk Louw gesels oor sy lewe, werk en denke.

02:04:28

Land en sand: Rocco de Villiers

In die skadu van Platberg by Harrismith, het Rocco de Villiers gedroom om mense te vermaak. Hy en sy Tannie Polla het gereeld konserte van kunstenaars soos Lance James, Bles Bridges en Wena Naudé in die statige stadsaal van Harrismith gaan kyk. Vandag is Rocco een van die gewildste kunstenaars in Suid-Afrika en hy skroom nie om op klein dorpies, gehuggies of groot verhoë, gehore te vermaak op die klawers, of met sy stories nie. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels.

01:11:52

Land en Sand: LJ en Irvette van Zyl

Polio en 'n bromponie-ongeluk kon nie keer dat dr. LJ en Irvette van Zyl albei topatlete in die wêreld word nie. LJ, wat steeds die 400 meter hekkies-rekord hou, het onlangs sy doktorsgraad verwerf. Irvette hardloop oor twee weke die Comrades Marathon, nadat sy verlede jaar 'n gouemedalje losgehardloop het. LJ en Irvette het land en sand met Pieter Steyn gesels oor hulle loopbane, waar hulle ontmoet het, en van die hoogte- en laagtepunte in hulle lewe.

54:12

Land en sand: Wouter Kellerman

Hy is een van ‘n paar Suid-Afrikaners wat verskeie Grammy-toekennings op sy kerfstok het. Hy het al intieme konserte vir wêreldleiers gegee, en 'n hele paar keer voor 'n vol Carnegie Hall in New York gespeel. Wouter Kellerman is 'n Suid-Afrikaner wat onder miljoene mense wêreldwyd bekend en geliefd is. Wouter het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy Grammytoekennings, sy loopbaan as ingenieur, enkelouerskap, waarom hy uit die NG Kerk geskop is, internasionale roem, en die moord op sy pa.

01:08:55

Land en sand: Peter de Villiers

As 'n laerskool-laaitie het hy gehoor hy sal nie eendag vir die Springbokke kan speel nie, omdat hy bruin is. Toe besluit hy hy sal dan eendag die Springbokke afrig. Peter de Villiers is nie op sy mond geval nie, en sy uitsprake het hom dikwels in die warm water laat beland. Peter het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy grootwordjare, sy loopbaan as Springbok-afrigter, omstrede uitsprake, gevegte destyds met SARU, sy politieke loopbaan, en die dood van sy vrou en dogter.

57:42

Land en sand: Ansie Venter

Sy is al deur top internasionale bewaringsorganisasies vereer vir haar werk teen renoster- en ander wilde diere wat gestroop word. Vir dekades het adv. Ansie Venter in die spesiale "renosterhof" in Skukuza, in die Krugerwildtuin stropers en hulle opdraggewers, suksesvol vervolg... 'n 100% suksessyfer. Ansie het onlangs afgetree. Sy het Land en Sand met Pieter Steyn gesels oor haar passie om misdadigers agter tralies te kry, die vervleging van georganiseerde misdaadkartelle en hoe sy 'n pronkerige prokureur op sy plek gesit het, toe hy haar "ounooi" genoem het. Hier is 'n uittreksel.

01:21:06

Land en sand: Jannie du Toit

Min Suid-Afrikaanse kunstenaars kan spog met 'n loopbaan van meer as vyf dekades, en nog is het einde niet! Die troebadoer, Jannie du Toit, vier vanjaar sy 55ste jaar op die verhoog. Jannie het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy loopbaan, vriendskappe en samewerking met Koos du Plessis, Lukas Maree, Coenie de Villiers, Christa Steyn en 'n swetterjoel ander kunstenaars hier en oorsee. Hy vertel ook hoe Anna Neethling-Pohl vir lank aaneen kon swets, en hoekom hy uiteindelik die regsberoep verlaat het.

01:06:19

Land en Sand: Geordin Hill-Lewis

Sy eerste politieke pos was om Helen Zille se motorbestuurder te wees. Vandag is Geordin Hill-Lewis die DA-leier én burgemeester van Kaapstad. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy vergadering met president Cyril Ramaphosa, wat hy van Mmusi Maimane se termyn as DA-leier dink, of hy 'n sosiale demokraat is, en hoekom Taylor Swift sal "bepaal" of hy as 'n goeie burgemeester gereken sal word.

44:37

Land en sand: Faan en Dirk van der Walt

Hulle het nooit daarvan gedroom om miljardêrs te word nie, veral nie toe hulle gereeld hulle pa moes help om die gesinsmotor se enjin reg te maak nie. Faan en Dirk van der Walt, die twee broers wat WeBuyCars gestig het, het onlangs byna R900 miljoen se aandele in die maatskappy verkoop. Faan en Dirk het land en sand met Pieter Steyn gesels oor hulle kinderdae, hulle sekuriteitswag-pa en onderwyser-ma, hoe hulle elke dag ’n koei moes melk, en hoe hulle begin het om winskopies in die destydse Junk Mail te soek.

59:15

Land en sand: Carl Niehaus

'n Anti-apartheidstryder, wat bo sy vermoëns geleef het, leuens vertel het en toe moes bieg en verskoning vra. Carl Niehaus is 'n politikus wat byna geen Suid-Afrikaner koud laat nie. Carl het land en Sand met Pieter Steyn gesels oor sy grootwordjare, hoe hy en sy vorige vrou, Jansie, AK47's en kleefmyne in 'n Peugot gesmokkel het, die leuens waaroor hy gebieg het, sy uitval met oudpresident Jacob Zuma, en watter land hy beskou as 'n ideale land wat navolgingswaardig is.

01:18:02

Land en sand: Nianell

Sedert sy haar verstand gekry het, het Nianell die besondere stem wat gehore in vervoering het. Tog, ondanks die stem en die verhoogpersoonlikheid, was sy eintlik baie onseker, en het die lewe haar 'n hele paar houe toegedien. Nianell se memoir, A Song That's Yet Unsung, het pas verskyn. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor haar grootwordjare, egskeiding, spirituele buiteliggaamlike ervarings, en die gawe om helderhorend te wees.

01:33:02
Close

Save video to ...